Deuteronomium 15:7-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

7. “As daar in een van die dorpe in die land wat die Here jou God aan jou gee, 'n arme is, 'n mede-Israeliet, moet jy nie hard en suinig wees teenoor so 'n broer van jou wat arm is nie.

8. Wees vrygewig teenoor hom en leen hom wat hy nodig het.

9. Moenie sondige gedagtes herberg en dink dit is nie goed om jou broer wat arm is te help nie omdat die sewende jaar, die jaar van afskrywing, op hande is nie. Hy mag hom teen jou op die Here beroep, en jy sal skuldig staan.

10. Gee vryelik aan jou broer wat arm is, en moenie sleg voel omdat jy vir hom gegee het nie, want juis omdat jy vir hom gee, sal die Here jou God jou voorspoedig maak in alles wat jy doen en aanpak.

11. Daar sal altyd armes in jou land wees, en daarom het ek jou beveel om vrygewig te wees teenoor jou mede-Israeliet wat in nood is en arm is.”

12. “Wanneer 'n mede-Israeliet, 'n Hebreër soos jy, 'n man of 'n vrou, aan jou verkoop word, en hy werk ses jaar vir jou, moet jy hom in die sewende jaar vrylaat.

13. Maar wanneer jy hom vrylaat, moet jy hom nie met leë hande laat gaan nie.

Deuteronomium 15