6. Hy het militêre poste in die gebied Aram-Damaskus ingerig, en die Arameërs het aan hom onderhorig geword en moes aan hom belasting betaal. Die Here het Dawid die oorwinning laat behaal net waar hy gegaan het.
7. Hy het die goue skilde van Hadad-Eser se offisiere afgevat en dit na Jerusalem toe gebring.
8. In Tebag en Berotai, twee stede van Hadad-Eser, het hy op 'n groot klomp brons beslag gelê.
9. Toe koning Toï van Hamat hoor dat Dawid die hele leër van Hadad-Eser verslaan het,
10. het hy sy seun Joram na koning Dawid toe gestuur. Hy moes hom sy groete oorbring en hom gelukwens met sy oorwinning oor Hadad-Eser, want Hadad-Eser het kort-kort vir Toï aangeval. Joram het vir Dawid allerlei artikels van silwer en goud en brons gebring.
11. Koning Dawid het dit alles aan die Here gewy, en so ook die silwer en goud van al die nasies wat hy onderwerp het,