7. En tog het Dawid die Sionsvesting ingeneem. Dit is nou die Dawidstad.
8. Op daardie dag het Dawid gesê: “Elkeen wat 'n Jebusiet wil verslaan, moet eers die watertonnel, en die blindes en kreupeles in die hande kry.”Dawid het hulle blywend gehaat. Dit is waarom gesê word 'n blinde of 'n kreupele mag nie in die tempel inkom nie.
9. Dawid het in die vesting gaan woon en dit Dawidstad genoem. Sy bouwerke het gestrek van die terras af in die rigting van die paleis.
10. Hy het al hoe sterker geword en die Here die Almagtige was by hom.
11. Koning Hiram van Tirus het 'n afvaardiging na hom toe gestuur en ook sederhout en skrynwerkers en messelaars. Hulle het vir Dawid 'n paleis gebou.
12. Dawid het toe besef dat die Here hom as koning oor Israel bevestig het en dat die Here Dawid se koningskap in hoë aansien gebring het ter wille van die volk Israel.
13. Nadat Dawid uit Hebron verhuis het, het hy vir hom uit Jerusalem meer byvrouens en vrouens geneem. Daar is toe vir hom nog seuns en dogters gebore.
14. Dit is die name van sy kinders wat in Jerusalem gebore is: Sima, Sobab, Natan, Salomo,
15. Jibgar, Elisua, Nefeg, Jafia,
16. Elisama, Eljada en Elifelet.
17. Toe die Filistyne verneem dat Dawid tot koning oor Israel gesalf is, het hulle almal teen hom opgetrek. Dawid het dit te hore gekom en op 'n strategiese plek gaan stelling inneem.
18. Die Filistyne het gekom en die Spooklaagte binnegeval.
19. Dawid het die Here geraadpleeg en gevra: “Moet ek teen die Filistyne opruk? Sal U hulle in my mag oorgee?”Die Here het hom geantwoord: “Ja, trek op, want Ek gee hulle beslis aan jou oor.”
20. Dawid het toe deur 'n groot kloof getrek en hulle daar verslaan.Hy het gesê: “Die Here het my vyand voor my gekloof soos water 'n wal kloof.”Daarom het hy die plek Grootkloof genoem.