23. Baie mense het vir die Here in Jerusalem offers gebring en kosbare geskenke vir koning Hiskia van Juda, wie se aansien onder die nasies hoog gestyg het ná dié gebeure.
24. Dié tyd het Hiskia ernstig siek geword. Hy het tot die Here gebid, en die Here het met hom gepraat en met hom 'n wonder laat gebeur.
25. Hiskia het egter nie dankbaarheid betoon vir dié weldaad nie. Hy het ingenome geword met homself, en dit het die toorn van die Here oor hom en oor Juda en Jerusalem gebring.
26. Hy en die inwoners van Jerusalem het egter berou gekry oor die selfingenomenheid, en die toorn van die Here het toe nie in die tyd van Hiskia oor hulle gekom nie.
27. Hiskia was ryk en het groot aansien geniet. Hy het vir hom skatkamers laat bou vir silwer, goud, edelstene, kosbare kruie, skilde en allerlei waardevolle goed.
28. Hy het opslagplekke laat bou vir die koring, wyn en olie wat aan hom gelewer is, en krale en stalle vir sy beeste en kleinveekuddes.
29. Hy het vir hom stede laat bou en het groot troppe kleinvee en grootvee gehad. God het hom 'n baie groot persoonlike besit laat opbou.
30. Dit was Hiskia wat die boonste uitloop van die Gihonfontein afgesny en die water reguit na die westekant van die Dawidstad toe gelei het. Hy was voorspoedig met alles wat hy gedoen het.
31. Maar toe die regeerders van Babel woordvoerders na hom toe gestuur het om navraag te doen oor die wonder wat in sy land gebeur het, het God hom verlaat. Dit was om hom te toets en hom sy eie hart te laat ken.