9. As julle terugkom na die Here toe, sal julle broers en julle seuns medelye vind by dié wat hulle gevange weggevoer het en sal hulle na hierdie land toe terugkom. Die Here julle God is genadig en barmhartig. Hy sal nie afsydig staan as julle na Hom toe terugkom nie.”
10. Die hardlopers het in die gebied van Efraim en Manasse en tot in Sebulon van stad tot stad gegaan, maar die mense het hulle uitgelag en gespot.
11. Tog het mense in Aser, Manasse en Sebulon berou gekry en na Jerusalem toe gekom.
12. Ook in Juda was die hand van God werksaam. Hy het hulle die koning en die amptenare se bevel wat op sy opdrag berus het, eendragtig laat gehoorsaam.
13. Baie mense het in Jerusalem byeengekom, 'n baie groot gemeente, om die fees van die ongesuurde brood in die tweede maand te vier.
14. Die mense het die altare wat oral in Jerusalem was, afgebreek, ook al die wierookaltare, en dit in die Kedrondal gegooi.
15. Hulle het die paaslam geslag op die veertiende van die tweede maand. Die priesters en die Leviete het skaam gekry en hulle gewy en die brandoffers geoffer in die huis van die Here.