2 Kronieke 29:25-30 Afrikaans 1983 (AFR83)

25. Die koning het die Leviete plek laat neem met simbale, harpe en liere in die huis van die Here volgens die opdrag van Dawid en van Gad, die siener van koning Dawid, en van die profeet Natan, want dit was 'n opdrag wat van die Here self gekom het deur middel van sy profete.

26. Die Leviete het reggestaan met die instrumente van Dawid, en die priesters met trompette.

27. Hiskia het opdrag gegee dat die brandoffer op die altaar gesit moet word, en die oomblik toe die offer begin, het die lied van die Here begin, die trompette geblaas en die musiekinstrumente van Dawid koning van Israel gespeel.

28. Terwyl die sang weerklink en die trompette skal, het die hele gemeente in aanbidding gebuig. Dit het alles aangehou tot die offer afgehandel was.

29. Toe die offer afgehandel was, het die koning en almal wat by hom was, gekniel en gebuig.

30. Hy en die amptenare het toe die Leviete beveel om die Here te loof met die liedere van Dawid en die siener Asaf. Die Leviete het die lofliedere vol vreugde gesing en op hulle knieë geval en vooroor gebuig.

2 Kronieke 29