5. Hy het die priesters en die Leviete bymekaar laat kom en vir hulle gesê: “Gaan die stede van Juda deur en samel by al die Israeliete geld in om die huis van julle God te herstel soos dit van jaar tot jaar nodig mag wees. Doen dit dadelik.”Die Leviete het die opdrag egter nie dadelik uitgevoer nie,
6. en die koning het die hoëpriester Jojada laat roep en vir hom gevra: “Waarom het jy nie toegesien dat die Leviete die bydraes uit Juda en Jerusalem inbring nie? Dit is tog die bydraes wat Moses, die dienaar van die Here, van die gemeente van Israel gevra het vir die tent met die getuienis!”
7. Dit was die goddelose Atalia en haar volgelinge wat die tempel in verval laat raak het. Hulle het selfs die wydingsgeskenke van die huis van die Here vir die Baäls gebruik.
8. In opdrag van die koning is daar toe 'n kis gemaak en voor die tempelpoort gesit,
9. en in Juda en in Jerusalem is aangekondig dat die bydraes wat Moses, die dienaar van die Here, in die woestyn al van Israel gevra het, vir die Here gebring moes word.
10. Al die leiers en die hele volk het die geld met blymoedigheid gebring en in die kis gegooi. So het al die bydraes ingekom.