2 Kronieke 24:20-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

20. Die Gees van God het vir Sagaria seun van die priester Jojada in besit geneem. Sagaria het voor die volk gaan staan en vir hulle gesê: “So sê God: Waarom oortree julle die gebooie van die Here? Dit sal nie met julle goed gaan nie. Omdat julle die Here verlaat het, sal Hy julle verlaat.”

21. Maar hulle het 'n vals aanklag teen Sagaria bedink en hom op bevel van die koning met klippe doodgegooi in die voorhof van die huis van die Here.

22. Koning Joas het nie gedink aan die liefde wat sy pleegvader Jojada aan hom bewys het nie. Hy het Jojada se seun vermoor. Sagaria het, toe hy sterf, gesê: “Die Here sien dit, Hy sal julle straf!”

23. Met die wisseling van die jaar het die leër van die Arameërs 'n aanval op Joas gemaak. Hulle het Juda en Jerusalem binnegedring, al die leiers van die volk doodgemaak en die buit wat hulle gemaak het, vir die koning van Damaskus gestuur.

24. Die Aramese leër het met 'n klein klompie manskappe gekom, en die Here het 'n baie groot leër in hulle mag oorgegee. Dit was omdat die volk die Here die God van hulle voorvaders verlaat het. Die Arameërs het die straf van God oor Joas voltrek.

25. Toe hulle weggaan, het hulle hom swaar gewond agtergelaat, en sy eie amptenare het teen hom saamgesweer en hom in sy bed vermoor. Dit was omdat hy die seun van die priester Jojada laat doodmaak het.So is Joas dood. Hy is in die Dawidstad begrawe, maar nie in 'n koningsgraf nie.

2 Kronieke 24