25. Josafat en sy manskappe het die buit bymekaar kom maak en 'n groot hoeveelheid gekry: persoonlike besittings aan die lyke en allerlei kosbare goed. Hulle het soveel gekry dat hulle dit nie kon dra nie. Drie dae lank was hulle besig om die buit bymekaar te maak, soveel was dit.
26. Op die vierde dag het hulle 'n samekoms gehou in die Lofdal. Hulle het die Here daar geloof, daarom noem hulle dié plek tot vandag toe die Lofdal.
27. Al die manne van Juda en Jerusalem, met Josafat aan die hoof, is toe met groot blydskap terug Jerusalem toe. Die Here het hulle bly gemaak oor hulle vyande.
28. Hulle is terug na Jerusalem, na die huis van die Here toe, met harpe, liere en trompette.
29. Al die koninkryke was van skrik bevange vir God toe hulle hoor dat die Here oorlog gevoer het teen die vyande van Israel.
30. Die heerskappy van Josafat het rustig voortgegaan, en sy God het hom na alle kante toe rus gegee.