22. Juis toe, toe die sangers met die lofprysing en gebed begin, het die Here onverwagte aanvalle bewerk op die Ammoniete, die Moabiete en die mense van die Seïrberge wat teen Juda opgetrek het, en hulle het die een neerlaag na die ander gely.
23. Toe val die Ammoniete en die Moabiete die inwoners van die Seïrberge aan en spaar niemand nie en roei hulle uit. En toe hulle klaar was met die inwoners van Seïr, het hulle mekaar begin uitdelg.
24. Toe die Judeërs by die uitkykpos teenaan die woestyn kom en na die magtige vyand soek, lê daar net lyke op die grond. Daar was nie een oorlewende nie.
25. Josafat en sy manskappe het die buit bymekaar kom maak en 'n groot hoeveelheid gekry: persoonlike besittings aan die lyke en allerlei kosbare goed. Hulle het soveel gekry dat hulle dit nie kon dra nie. Drie dae lank was hulle besig om die buit bymekaar te maak, soveel was dit.
26. Op die vierde dag het hulle 'n samekoms gehou in die Lofdal. Hulle het die Here daar geloof, daarom noem hulle dié plek tot vandag toe die Lofdal.
27. Al die manne van Juda en Jerusalem, met Josafat aan die hoof, is toe met groot blydskap terug Jerusalem toe. Die Here het hulle bly gemaak oor hulle vyande.