2 Konings 9:2-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

2. As jy daar kom, gaan soek vir Jehu op, seun van Josafat seun van Nimsi. Gaan in, bring hom eenkant, weg van sy medeoffisiere af, in 'n binnekamer,

3. vat die kruik olie en giet dit op sy kop uit. Sê dan vir hom: ‘So sê die Here: Ek salf jou tot koning van Israel.’ Maak dan die deur oop en vlug onmiddellik.”

4. Die jongman, die profeet, het na Ramot in Gilead toe gegaan.

5. Toe hy daar aankom, was die generaals besig met 'n samespreking. Hy het gesê: “Ek het 'n boodskap vir u, Generaal.”Jehu het gevra: “Vir wie van ons?”Hy het geantwoord: “Vir u, Generaal.”

6. Jehu het opgestaan en toe hy in die ander vertrek inkom, het die profeet die olie op Jehu se kop uitgegiet met die woorde: “So sê die Here die God van Israel: Ek salf jou tot koning oor Israel, die volk van die Here.

7. Jy sal die koningshuis van Agab vernietig. So sal Ek My wreek op Isebel oor die vergieting van die bloed van my dienaars die profete, oor die vergieting van die bloed van al die dienaars van die Here.

8. Die hele koningshuis van Agab sal tot niet gaan. Ek sal elke manlike nakomeling van Agab in Israel sonder uitsondering uitroei.

9. Ek sal met die huis van Agab maak soos met die huis van Jerobeam seun van Nebat, en soos met die huis van Baesa seun van Agija.

10. Die honde sal vir Isebel opvreet op die oop stuk grond in Jisreël; sy sal nie begrawe word nie.”Die profeet het toe die deur oopgemaak en gevlug.

11. Toe Jehu uit die kamer uit terugkom by die amptenare van die koning, het hulle vir hom gevra: “Is alles reg? Hoekom het hierdie mal man na jou toe gekom?”Hy het hulle geantwoord: “Julle ken tog self die man en sy praatjies.”

12. Hulle antwoord toe: “Onsin! Toe, vertel ons.”Hy het gesê: “Dit is wat die man vir my gesê het: So sê die Here: Ek salf jou tot koning oor Israel.”

13. Onmiddellik het elkeen sy klere gevat en dit op die trappe voor Jehu oopgegooi. Hulle het die ramshoring geblaas en uitgeroep: “Jehu is koning!”

16. Daarna het Jehu op sy wa geklim en Jisreël toe gery waar Joram siek gelê het en koning Ahasia van Juda vir Joram gaan besoek het.

17. Waar die wag op die toring in Jisreël gestaan het, het hy Jehu se aanhangers sien aankom. Hy het opgemerk: “Ek sien 'n klomp mense.”Toe sê Joram: “Beveel 'n ruiter om hulle tegemoet te ry en te vra of hulle in vrede kom.”

18. Die perderuiter het Jehu tegemoet gegaan en gesê: “Die koning vra of jy in vrede kom.”Jehu het geantwoord: “Wat maak dit saak of ek in vrede kom? Sluit by my aan.”Die man het laat weet: “Die boodskapper het tot by hulle gekom, maar hy kom nie terug nie.”

19. Koning Joram stuur toe 'n tweede perderuiter. Toe hy by hulle kom, sê hy: “Die koning vra of jy in vrede kom?”Jehu het geantwoord: “Wat maak dit saak of ek in vrede kom? Sluit by my aan.”

20. Die wag het laat weet: “Die boodskapper het tot by hulle gekom, maar hy kom nie terug nie. Die een wat die wa dryf, moet Jehu seun van Nimsi wees, want hy dryf soos 'n mal mens!”

21. Koning Joram van Israel het toe opdrag gegee: “Span die wa in.”Hulle het sy wa ingespan en hy het opgeklim. Koning Ahasia van Juda het op sy eie wa geklim. Hulle het na Jehu toe gery en by hom gekom by die stuk grond van Nabot die Jisreëliet.

2 Konings 9