7. Dawid het vir die priester Abjatar seun van Agimelek gesê: “Bring tog vir my die skouerkleed nader.” Abjatar het die skouerkleed vir Dawid nader gebring.
8. Dawid het die Here geraadpleeg: “Moet ek hierdie bende agtervolg? Sal ek hulle inhaal?”Die Here het hom geantwoord: “Ja, want jy sál hulle inhaal en jou mense red.”
9. Dawid en sy ses honderd man het gegaan en by Besorspruit gekom, waar party agtergebly het.
10. Dawid self en vier honderd man het die agtervolging voortgesit, en twee honderd man wat te moeg was om Besorspruit deur te gaan, het agtergebly.
11. Hulle het 'n Egiptenaar in die veld gekry en hom na Dawid toe gebring. Hulle het hom kos gegee, en nadat hy geëet het, het hulle hom water laat drink.