5. So het Dawid dan die hele Israel, van Sigorspruit aan die Egiptiese grens af tot by Lebo-Hamat, bymekaargebring om die ark van God in Kirjat-Jearim te gaan haal.
6. Dawid en die hele Israel het opgetrek na Baäla toe, na Kirjat-Jearim toe wat in Juda lê, om die ark te gaan haal. Dit is die ark van die Here God wat oor die gerubs troon; sy Naam is oor die ark uitgeroep.
7. Hulle het die ark van God op 'n nuwe wa vervoer van die huis van Abinadab af. Ussa en Agjo het die wa gedrywe.
8. Dawid en die hele Israel het uitbundig voor die ark van God uit gedans, begelei deur liedere, liere, harpe, tamboeryne, simbale en trompette.
9. Toe hulle by Nakon se dorsvloer kom, het Ussa die ark met sy hand teëgehou, want die osse het gestruikel.