1 Kronieke 11:15-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

15. Op 'n keer het drie ander van die dertig leiers na Dawid toe gekom by die rots by die Adullamgrot. Die Filistynse kamp was in die Spooklaagte opgeslaan.

16. Dawid was toe in 'n bergskuiling en die Filistyne het Betlehem beset.

17. Dawid het baie dors geword en gesug: “Ag, as iemand my tog net water uit die put in Betlehem se poort kon laat drink!”

18. Die drie het toe deur die Filistynse kamp geglip en water gaan skep uit die put in Betlehem se poort. Hulle het dit vir Dawid gebring, maar hy wou dit nie drink nie. Hy het dit as 'n offer vir die Here uitgegiet

19. en gesê: “Mag God my daarvan bewaar dat ek dit sou drink. Sou ek die bloed van hierdie manne ten koste van hulle lewens wou drink? Hulle het dit met lewensgevaar gebring, en ek durf dit nie drink nie.”Dit is wat die drie helde gedoen het.

20. Joab se broer Abisai was die leier van hierdie drie. Hy het met sy spies drie honderd man laat sneuwel. So het hy vir hom onder die drie naam gemaak.

21. Hy het 'n ereplek gehad in die tweede drietal en was hulle aanvoerder, maar een van die driemanskap het hy nie geword nie.

1 Kronieke 11