22. 'n Slaaf wat deur die Here geroep is, is immers 'n vrygemaakte van die Here. Net so ook is 'n vry man wat deur die Here geroep is, nou 'n slaaf van Christus.
23. Julle is vrygekoop en die prys is betaal; moet dan nie slawe van mense wees nie.
24. Broers, elkeen moet God dien in die omstandighede waarin hy was toe God hom geroep het.
25. Wat die ongetroudes betref, het ek geen bevel van die Here nie, maar ek gee my eie mening as iemand wat deur die genade van die Here betroubaar is.
26. Ek meen dat, met die oog op die swaarkry van die eindtyd, dit vir 'n mens goed is om te bly soos hy is:
27. as jy getroud is, moenie skei nie; as jy ongetroud is, moenie 'n vrou soek nie.
28. Maar as jy tog trou, doen jy nie verkeerd nie. En as 'n jongmeisie trou, doen sy nie verkeerd nie. Maar sulke mense sal swaar kry in hierdie lewe, en ek wil julle dit bespaar.