Romeine 12:6-18 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

6. En ons besit genadegawes wat verskil volgens die genade wat aan ons gegee is:

7. is dit profesie, na die maat van die geloof; of bediening, in die werk van bediening; of wie leer, in die lering;

8. of wie vermaan, in die vermaning; wie uitdeel, in opregtheid; wie ’n voorganger is, met ywer; wie barmhartigheid bewys, met blymoedigheid.

9. LAAT die liefde ongeveins wees; verafsku wat sleg is; hang die goeie aan;

10. wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde; die een moet die ander voorgaan in eerbetoning;

11. wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here;

12. verbly julle in die hoop; wees geduldig in die verdrukking; volhard in die gebed.

13. Maak voorsiening in die behoeftes van die heiliges; streef na gasvryheid;

14. seën die wat julle vervolg, seën en moenie vervloek nie;

15. wees bly met die wat bly is, en ween met die wat ween;

16. wees eensgesind onder mekaar; moenie na hoë dinge streef nie, maar voeg julle by die nederige; moenie eiewys wees nie;

17. vergeld niemand kwaad vir kwaad nie; bedink wat goed is voor alle mense;

18. as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.

Romeine 12