Rigters 3:4-22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

4. Hulle was dan daar om deur hulle Israel op die proef te stel; om te weet of hulle na die gebooie van die Here wat Hy hulle vaders deur Moses beveel het, sou luister.

5. SO het die kinders van Israel dan onder die Kanaäniete, Hetiete en Amoriete en Feresiete en Hewiete en Jebusiete gewoon,

6. en húl dogters vir hulle as vroue geneem en hulle eie dogters aan húl seuns gegee en hul gode gedien.

7. En die kinders van Israel het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here en die Here hulle God vergeet en die Baäls en die heilige boomstamme gedien.

8. Daarop het die toorn van die Here teen Israel ontvlam, en Hy het hulle verkoop in die hand van Kusan Risatáim, die koning van Mesopotámië, en die kinders van Israel het Kusan Risatáim agt jaar lank gedien.

9. Maar toe die kinders van Israel die Here aanroep, het die Here ’n verlosser vir die kinders van Israel verwek, wat hulle verlos het: Ótniël, die seun van Kenas, die jonger broer van Kaleb.

10. En die Gees van die Here het op hom gekom, en hy het Israel gerig en uitgetrek om oorlog te voer; en die Here het Kusan Risatáim, die koning van Aram, in sy hand gegee, sodat hy die oorhand oor Kusan Risatáim gekry het.

11. Toe kry die land rus veertig jaar lank. En Ótniël, die seun van Kenas, het gesterwe.

12. EN die kinders van Israel het weer gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here. Toe maak die Here Eglon, die koning van Moab, sterk teen Israel, omdat hulle gedoen het wat verkeerd was in die oë van die Here;

13. en hy versamel by hom die kinders van Ammon en Ámalek. Daarop het hy weggetrek en Israel verslaan, en hulle het die Palmstad in besit geneem.

14. En die kinders van Israel het Eglon, die koning van Moab, agttien jaar lank gedien.

15. Maar toe die kinders van Israel die Here aanroep, het die Here vir hulle as verlosser verwek: Ehud, die seun van Gera, die Benjaminiet, ’n man wat links was. Deur hom stuur toe die kinders van Israel die belasting aan Eglon, die koning van Moab.

16. En Ehud het vir hom ’n swaard gemaak, aan twee kante skerp, een el lank, en dit onder sy klere aan sy regterheup vasgegord;

17. en hy het die belasting aan Eglon, die koning van Moab, gebring; en Eglon was ’n baie vet man.

18. En toe hy die belasting volledig afgelewer het, bring hy die mense wat die belasting gedra het, weg;

19. maar hy self het omgedraai by die gesnede beelde wat by Gilgal was, en gesê: Ek het ’n geheime opdrag aan u, o koning! Dié sê toe: Stil! En almal wat by hom staan, het van hom af weggegaan buitentoe.

20. En toe Ehud by hom inkom, terwyl hy in die koel bo-kamer sit wat vir hom alleen was, sê Ehud: Ek het ’n woord van God aan u! En toe hy van sy stoel af opstaan,

21. steek Ehud sy linkerhand uit en gryp die swaard van sy regterheup af en steek dit in sy buik,

22. sodat selfs die hef agter die lem ingedring het en die vet, want hy het die swaard nie uit sy buik uitgetrek nie, om die lem toegesluit en by die wond uitgepuil het.

Rigters 3