Rigters 19:15-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

15. Toe draai hulle daar uit om in Gíbea te gaan vernag. En hy het ingekom en gebly op die plein van die stad, want daar was niemand wat hulle in sy huis opgeneem het om te vernag nie.

16. Maar kyk, in die aand kom daar ’n ou man uit die veld van sy werk af, en die man was van die gebergte van Efraim afkomstig en het in Gíbea as vreemdeling vertoef; maar die manne van die plek was Benjaminiete.

17. En toe hy sy oë opslaan, sien hy die reisiger op die plein van die stad, en die ou man vra: Waar gaan u heen, en waar kom u vandaan?

18. En hy sê vir hom: Ons trek deur van Betlehem-Juda tot agter in die gebergte van Efraim; ek kom daarvandaan en het tot by Betlehem-Juda gereis, en ek gaan na die huis van die Here; maar hier is niemand wat my in sy huis opneem nie,

19. alhoewel ons esels strooi sowel as voer het, en daar ook brood en wyn is vir myself en vir u dienares en vir die bediende wat by u dienaars is; daar is aan geen ding gebrek nie.

20. Toe sê die ou man: Vrede vir jou! alleenlik, al wat u kortkom, is vir my rekening; u moet net nie op die plein vernag nie.

21. Daarop het hy hom in sy huis ingebring en aan die esels voer gegee; en nadat hulle hul voete gewas het, het hulle geëet en gedrink.

Rigters 19