Psalms 44:4-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

4. Want hulle het die land nie deur hul swaard in besit geneem nie, en hul arm het hulle nie die oorwinning gegee nie, maar u regterhand en u arm en die lig van u aangesig, omdat U ’n welbehae in hulle gehad het.

5. U self is my Koning, o God! Gebied die oorwinninge van Jakob.

6. Deur U sal ons ons teëstanders omstoot; in u Naam sal ons hulle vertrap wat teen ons opstaan.

7. Want ek vertrou nie op my boog nie, en my swaard sal my die oorwinning nie gee nie;

8. maar U het ons verlos van ons teëstanders en ons haters beskaamd gemaak.

9. In God roem ons die hele dag, en u Naam sal ons loof tot in ewigheid. Sela.

10. En tog het U ons verstoot en tot skande gemaak, en U trek nie saam met ons leërs uit nie.

11. U laat ons agteruitwyk vir die teëstander, en ons haters plunder na hartelus.

12. U gee ons oor soos slagvee, en U het ons onder die nasies verstrooi.

13. U verkoop u volk vir niks en het nie baie verdien deur hulle koopprys nie.

14. U maak ons ’n smaad vir ons bure, ’n spot en beskimping vir die wat rondom ons is.

15. U maak ons ’n spreekwoord onder die nasies, ’n hoofskudding onder die volke.

Psalms 44