23. En die esel het die Engel van die Here in die pad sien staan, met sy ontblote swaard in sy hand; daarom het die esel uit die pad uitgedraai en die veld ingeloop. Maar Bíleam het die esel geslaan om haar na die pad te stuur.
24. Daarop gaan die Engel van die Here in ’n hol pad tussen die wingerde staan — ’n muur duskant en ’n muur anderkant.
25. En toe die esel die Engel van die Here sien, druk sy haarself teen die muur en druk ook Bíleam se voet teen die muur; daarom het hy haar weer geslaan.
26. En die Engel van die Here het weer verder gegaan en bly staan op ’n nou plek waar geen pad was om regs of links uit te draai nie.
27. Toe die esel die Engel van die Here sien, gaan sy onder Bíleam lê. Daarop het Bíleam baie kwaad geword en die esel met ’n stok geslaan.