30. En U was baie jare lankmoedig oor hulle, en U het hulle gewaarsku deur u Gees, deur middel van u profete; maar hulle het geen gehoor gegee nie. Daarom het U hulle oorgegee in die hand van die volke van die lande.
31. Maar in u grote barmhartigheid het U hulle nie volkome vernietig en hulle nie verlaat nie, want U is ’n genadige en barmhartige God.
32. Onse God, groot, magtige en gedugte God, wat die verbond en die goedertierenheid hou, laat dan nou al die moeilikheid nie gering wees voor u aangesig nie wat ons, ons konings, ons owerstes en ons priesters en ons profete en ons vaders en u hele volk oorgekom het van die dae van die konings van Assur af tot vandag toe.
33. Maar U is regverdig in alles wat oor ons gekom het; want U het getrou gehandel, maar ons het goddeloos gehandel;
34. en ons konings, ons owerstes, ons priesters en ons vaders het u wet nie volbring en na u gebooie en u getuienisse waarmee U hulle gewaarsku het, nie geluister nie.
35. En hulle het in hul koninkryk en by u groot seën wat U hulle geskenk het, en in die wye en vet land wat U aan hulle oorgegee het, U nie gedien nie en hulle nie van hul verkeerde handelinge bekeer nie.