Matthéüs 26:55-66 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

55. In daardie uur het Jesus vir die skare gesê: Het julle soos teen ’n rower uitgekom met swaarde en stokke om My gevange te neem? Dag vir dag het Ek by julle gesit en leer in die tempel, en julle het My nie gegryp nie.

56. Maar dit het alles gebeur, dat die Skrifte van die profete vervul sou word. Toe het al die dissipels Hom verlaat en gevlug.

57. EN die wat Jesus gevange geneem het, het Hom weggelei na Kájafas, die hoëpriester, waar die skrifgeleerdes en die ouderlinge vergader het.

58. En Petrus het Hom van ver af gevolg tot by die paleis van die hoëpriester, en hy het ingegaan en by die dienaars gaan sit om die einde te sien.

59. En die owerpriesters en die ouderlinge en die hele Raad het valse getuienis teen Jesus gesoek om Hom dood te maak, en niks gevind nie.

60. En alhoewel daar baie valse getuies gekom het, het hulle niks gevind nie.

61. Maar oplaas kom daar twee valse getuies en sê: Hierdie man het gesê: Ek kan die tempel van God afbreek en dit in drie dae opbou.

62. Daarop staan die hoëpriester op en sê vir Hom: Antwoord U niks nie? Wat getuig hierdie manne teen U?

63. Maar Jesus het stilgebly. En die hoëpriester antwoord en sê vir Hom: Ek besweer U by die lewende God dat U vir ons sê of U die Christus, die Seun van God, is?

64. Jesus antwoord hom: U het dit gesê. Maar Ek sê vir u almal: Van nou af sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die krag van God en kom op die wolke van die hemel.

65. Toe verskeur die hoëpriester sy klere en sê: Hy het godslasterlik gespreek, wat het ons nog getuies nodig? Kyk, nou het julle sy godslastering gehoor!

66. Wat dink julle? En hulle antwoord en sê: Hy is die dood skuldig.

Matthéüs 26