28. En hy antwoord hulle: ’n Vyandige mens het dit gedoen. Toe sê die diensknegte vir hom: Wil u dan hê dat ons dit moet gaan bymekaarmaak?
29. Maar hy antwoord: Nee, dat julle nie miskien, as julle die onkruid bymekaarmaak, die koring daarmee saam uittrek nie.
30. Laat altwee saam groei tot die oes toe, en in die oestyd sal ek vir die maaiers sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring bymekaar in my skuur.
31. ’n ANDER gelykenis het Hy hulle voorgehou en gesê: Die koninkryk van die hemele is soos ’n mosterdsaad wat ’n man neem en in sy land saai;
32. wat wel die kleinste is van al die soorte saad, maar as dit gegroei het, groter is as die groentesoorte en ’n boom word, sodat die voëls van die hemel kom en nes maak in sy takke.
33. ’n Ander gelykenis het Hy hulle vertel: Die koninkryk van die hemele is soos suurdeeg wat ’n vrou neem en in drie mate meel inwerk totdat dit heeltemal ingesuur is.
34. Al hierdie dinge het Jesus deur gelykenisse vir die skare gesê, en sonder gelykenis het Hy vir hulle niks gesê nie;