Matthéüs 13:27-36 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

27. En die diensknegte van die huisheer het gekom en vir hom gesê: Meneer, het u dan nie goeie saad in u land gesaai nie? Waar kry dit dan die onkruid vandaan?

28. En hy antwoord hulle: ’n Vyandige mens het dit gedoen. Toe sê die diensknegte vir hom: Wil u dan hê dat ons dit moet gaan bymekaarmaak?

29. Maar hy antwoord: Nee, dat julle nie miskien, as julle die onkruid bymekaarmaak, die koring daarmee saam uittrek nie.

30. Laat altwee saam groei tot die oes toe, en in die oestyd sal ek vir die maaiers sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring bymekaar in my skuur.

31. ’n ANDER gelykenis het Hy hulle voorgehou en gesê: Die koninkryk van die hemele is soos ’n mosterdsaad wat ’n man neem en in sy land saai;

32. wat wel die kleinste is van al die soorte saad, maar as dit gegroei het, groter is as die groentesoorte en ’n boom word, sodat die voëls van die hemel kom en nes maak in sy takke.

33. ’n Ander gelykenis het Hy hulle vertel: Die koninkryk van die hemele is soos suurdeeg wat ’n vrou neem en in drie mate meel inwerk totdat dit heeltemal ingesuur is.

34. Al hierdie dinge het Jesus deur gelykenisse vir die skare gesê, en sonder gelykenis het Hy vir hulle niks gesê nie;

35. sodat vervul sou word die woord wat gespreek is deur die profeet: Ek sal my mond open deur gelykenisse; Ek sal uitspreek dinge wat verborge was van die grondlegging van die wêreld af.

36. NADAT Hy die skare weggestuur het, het Jesus huis toe gegaan; en sy dissipels het na Hom gekom en gesê: Verklaar vir ons die gelykenis van die onkruid in die saailand.

Matthéüs 13