Markus 5:2-19 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. En toe Hy uit die skuit gaan, kom daar dadelik uit die grafte Hom tegemoet ’n man met ’n onreine gees,

3. wat sy verblyf in die grafte gehad het. En niemand kon selfs met kettings hom bind nie;

4. want hy was dikwels met voetboeie en kettings gebind, en die kettings is deur hom uitmekaar geruk en die voetboeie stukkend gebreek; en niemand was in staat om hom te tem nie.

5. En altyd, nag en dag, het hy aangehou om te skreeu op die berge en in die grafte en homself met klippe stukkend te slaan.

6. En toe hy Jesus van ver af sien, hardloop hy en val voor Hom neer

7. en skreeu met ’n groot stem en sê: Wat het ek met U te doen, Jesus, Seun van die allerhoogste God? Ek besweer U by God om my nie te pynig nie.

8. Want Hy het vir hom gesê: Onreine gees, gaan uit die man uit!

9. En Hy vra hom: Wat is jou naam? En hy antwoord en sê: Legio is my naam, want ons is baie.

10. Toe smeek hy Hom dringend om hulle nie uit die land weg te stuur nie.

11. En dáár teen die berge het ’n groot trop varke gewei,

12. en al die duiwels het Hom gesmeek en gesê: Stuur ons in die varke, sodat ons in hulle kan vaar.

13. En Jesus het hulle dit dadelik toegelaat; en die onreine geeste het uitgegaan en in die varke gevaar, en die trop — daar was omtrent tweeduisend — het van die krans af in die see gestorm en in die see verdrink.

14. En die wagters van die varke het gevlug en dit in die stad en in die buitewyke vertel; en hulle het uitgekom om te sien wat daar gebeur het.

15. Toe kom hulle by Jesus en sien die besetene sit, gekleed en by sy verstand — die een wat die legioen gehad het. En hulle was bevrees.

16. Die wat dit gesien het, vertel toe aan hulle hoe dit met die besetene gegaan het, en ook van die varke.

17. En hulle het Hom begin smeek om weg te gaan uit hulle gebied.

18. En toe Hy in die skuit klim, het die man wat van die duiwels besete gewees het, Hom gesmeek om by Hom te kan bly.

19. Maar Jesus het hom dit nie toegelaat nie, maar vir hom gesê: Gaan na jou huis na jou mense toe, en vertel hulle watter groot dinge die Here aan jou gedoen het, en dat Hy jou barmhartig was.

Markus 5