24. En toe Jesus sien dat hy diep bedroef geword het, sê Hy: Hoe beswaarlik sal hulle wat goed besit, in die koninkryk van God ingaan.
25. Want dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te gaan as vir ’n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan.
26. Daarop sê die wat dit gehoor het: Wie kan dan gered word?
27. Maar Hy antwoord: Die dinge wat by mense onmoontlik is, is by God moontlik.
28. Toe sê Petrus: Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg.
29. En Hy sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, daar is niemand wat huis of ouers of broers of vrou of kinders verlaat het ter wille van die koninkryk van God,
30. wat nie baiemaal soveel in hierdie tyd sal ontvang nie en die ewige lewe in die eeu wat kom.
31. EN Hy het die twaalf by Hom geneem en vir hulle gesê: Kyk, ons gaan op na Jerusalem, en alles wat deur die profete geskrywe is, sal aan die Seun van die mens vervul word.
32. Want Hy sal oorgelewer word aan die heidene en bespot en mishandel word, en op Hom sal gespuug word;
33. en nadat hulle Hom gegésel het, sal hulle Hom doodmaak; en op die derde dag sal Hy opstaan.
34. Maar hulle het niks hiervan begryp nie, en hierdie woord was vir hulle bedek, en hulle het nie verstaan wat gesê is nie.
35. EN terwyl Hy naby Jérigo kom, sit daar ’n blinde man langs die pad en bedel;
36. en toe hy ’n skare hoor verbygaan, vra hy wat dit is.
37. En hulle vertel hom: Jesus die Nasaréner gaan verby.
38. Toe roep hy uit en sê: Jesus, Seun van Dawid, wees my barmhartig!
39. En die wat voor loop, bestraf hom dat hy moet stilbly. Maar hy het al harder uitgeroep: Seun van Dawid, wees my barmhartig!
40. En Jesus het gaan staan en bevel gegee dat hy na Hom gebring moes word; en toe hy naby kom, vra Hy hom
41. en sê: Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen? En hy antwoord: Here, dat ek kan sien.
42. En Jesus sê vir hom: Sien! Jou geloof het jou gered.