Lukas 1:66-76 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

66. En almal wat dit gehoor het, het dit ter harte geneem en gesê: Wat sal tog van hierdie kindjie word? En die hand van die Here was met hom.

67. EN Sagaría, sy vader, is vervul met die Heilige Gees en het geprofeteer en gesê:

68. Geloofd sy die Here, die God van Israel, omdat Hy sy volk besoek het en vir hulle verlossing teweeggebring het,

69. en ’n horing van heil vir ons opgerig het in die huis van Dawid, sy kneg —

70. soos Hy gespreek het deur die mond van sy heilige profete van ouds af —

71. redding van ons vyande en uit die hand van almal wat vir ons haat,

72. om barmhartigheid te bewys aan ons vaders en aan sy heilige verbond te dink,

73. aan die eed wat Hy gesweer het vir Abraham, ons vader, om aan ons te gee

74. dat ons, verlos uit die hand van ons vyande, Hom sonder vrees kan dien,

75. in heiligheid en geregtigheid voor Hom, al die dae van ons lewe.

76. En jy, kindjie, sal ’n profeet van die Allerhoogste genoem word, want jy sal voor die aangesig van die Here uitgaan om sy weë reg te maak;

Lukas 1