13. Ook het Moses die seuns van Aäron laat nader kom en hulle die rokke aangetrek en hulle gegord met ’n gordel en hulle die musse omgebind soos die Here Moses beveel het.
14. Daarop het hy die sondofferbul laat aankom, en Aäron en sy seuns het hulle hande op die kop van die sondofferbul gelê.
15. En Moses het dit geslag en die bloed geneem en daarvan met sy vinger rondom aan die horings van die altaar gestryk en die altaar ontsondig; maar die orige bloed het hy aan die onderkant van die altaar uitgegooi. So het hy dit dan geheilig deur daar versoening voor te doen.
16. Verder het hy al die vet wat aan die binnegoed was en die lap aan die lewer en die twee niere en hulle vet geneem, en Moses het dit op die altaar aan die brand gesteek.