Levítikus 5:8-13 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

8. en hy moet hulle na die priester bring, wat dié een eerste moet offer wat as sondoffer bedoel is, en sy kop vlak voor sy nek afknyp sonder om dit af te trek.

9. Dan moet hy van die bloed van die sondoffer teen die kant van die altaar sprinkel; maar wat oorbly van die bloed, moet aan die onderkant van die altaar uitgedruk word; dit is ’n sondoffer.

10. En die ander een moet hy as brandoffer volgens voorskrif berei. So moet die priester dan vir hom versoening doen weens die sonde wat hy gedoen het, en dit sal hom vergewe word.

11. Maar as hy nie twee tortelduiwe of twee jong duiwe kan bekostig nie, moet hy as offer vir wat hy gesondig het, die tiende van ’n efa fynmeel as sondoffer bring. Hy moet geen olie daarop gooi en geen wierook daar byvoeg nie, want dit is ’n sondoffer.

12. En hy moet dit na die priester bring, en die priester moet daar ’n handvol van neem as die gedenkoffer en dit op die altaar oor die vuuroffers van die Here aan die brand steek; dit is ’n sondoffer.

13. So moet die priester dan vir hom versoening doen vir die sonde wat hy gedoen het in enigeen van hierdie gevalle, en dit sal hom vergewe word; verder behoort dit aan die priester net soos die spysoffer.

Levítikus 5