22. So moet die bok dan op hom al hulle ongeregtighede na ’n woeste land wegdra; en hy moet die bok in die woestyn los.
23. Dan moet Aäron in die tent van samekoms ingaan en die linneklere uittrek wat hy aangetrek het toe hy in die heiligdom ingegaan het, en dit daar neerlê.
24. En hy moet sy liggaam op ’n heilige plek in die water bad en sy klere aantrek. Dan moet hy uitgaan en sy brandoffer en die brandoffer van die volk berei, om vir hom en vir die volk versoening te doen.
25. Ook moet hy die vet van die sondoffer op die altaar aan die brand steek.
26. En hy wat die bok vir Asásel weggedrywe het, moet sy klere was en sy liggaam in die water bad; en daarna mag hy in die laer kom.