5. As die priester hom op die sewende dag bekyk en sien dat die aangetaste plek, volgens hy kan sien, dieselfde gebly het, die plek nie in die vel versprei het nie, dan moet die priester hom nog ’n keer sewe dae lank opsluit.
6. Bekyk die priester hom dan op die sewende dag nog ’n keer en sien hy dat die aangetaste plek dof van kleur geword en die plek in die vel nie versprei het nie, dan moet die priester hom rein verklaar. Dit is ’n uitslag; en hy moet sy klere was, dan is hy rein.
7. Maar as die uitslag werklik in die vel versprei nadat hy hom aan die priester vertoon het om rein te word, moet hy hom nog ’n keer aan die priester vertoon.
8. En sien die priester dat die uitslag in die vel versprei het, dan moet die priester hom onrein verklaar. Dit is melaatsheid.
9. As die plaag van melaatsheid aan ’n mens is, moet hy na die priester gebring word.
10. En as die priester sien dat daar ’n wit swelsel in die vel is wat die hare wit gemaak het, terwyl daar wilde vlees in die swelsel groei,
11. dan is dit ’n verouderde melaatsheid in die vel van sy vlees, en die priester moet hom onrein verklaar. Hy moet hom nie opsluit nie, want hy is onrein.
12. Maar as die melaatsheid so geweldig in die vel uitbreek, dat die melaatsheid die hele vel van die aangetaste persoon van sy hoof tot sy voete oordek, so ver as wat die oë van die priester kan sien;
13. en sien die priester dat die melaatsheid sy hele vlees oordek het, dan moet hy die aangetaste persoon rein verklaar: hy het heeltemal wit geword, hy is rein.
14. Maar so gou as wilde vlees aan hom gesien word, sal hy onrein wees;
15. en as die priester die wilde vlees sien, moet hy hom onrein verklaar. Die wilde vlees is onrein, dit is melaatsheid.
16. Maar as die wilde vlees weer weggaan en hy wit word, moet hy na die priester kom.