1. DAAROP sê die Here vir Josua: Wees nie bevrees of verskrik nie; neem al die weerbare manskappe met jou saam en maak jou klaar, trek op na Ai; kyk, Ek gee die koning van Ai en sy volk en sy stad en sy land in jou hand.
2. En jy moet met Ai en sy koning doen soos jy met Jérigo en sy koning gedoen het; net sy buit en sy vee mag julle vir julself buitmaak. Stel vir jou ’n hinderlaag op teen die stad, aan die agterkant.
3. Toe het Josua hom gereedgemaak met al die weerbare manskappe om op te trek na Ai, en Josua het dertigduisend man, dapper helde, uitgesoek en hulle in die nag uitgestuur
4. en aan hulle bevel gegee en gesê: Kyk, julle moet teen die stad ’n hinderlaag opstel, aan die agterkant van die stad; moenie te ver van die stad af weggaan nie, en hou julle almal gereed;
5. en ek met al die manskappe wat by my is, ons sal na die stad toe aankom; as hulle dan ’n uitval maak om ons te ontmoet, soos die vorige keer, sal ons voor hulle uit vlug;
6. en hulle sal uittrek agter ons aan totdat ons hulle van die stad afgesny het — want hulle sal dink: Hulle vlug voor ons uit soos die vorige keer — en ons sal voor hulle uit vlug.
7. Dan moet julle uit die hinderlaag opstaan en die stad inneem; want die Here julle God sal dit in julle hand gee.
8. En as julle die stad verower het, moet julle die stad aan die brand steek, na die woord van die Here moet julle handel; kyk, ek gee julle bevel.
9. So het Josua hulle dan uitgestuur, en hulle het getrek na die hinderlaag en gebly tussen Bet-el en Ai, aan die westekant van Ai; maar Josua het dié nag onder die manskappe deurgebring.
10. Die môre vroeg het Josua hom klaargemaak en die manskappe gemonster en opgetrek met die oudstes van Israel, op die voorpunt van die manskappe, na Ai toe.
11. En al die weerbare manskappe wat by hom was, het opgetrek en nader gegaan en teenoor die stad gekom, en hulle het laer opgeslaan aan die noordekant van Ai, sodat die dal tussen hulle en Ai was.
12. So het hy dan omtrent vyfduisend man geneem en hulle in ’n hinderlaag opgestel tussen Bet-el en Ai, aan die westekant van die stad.
13. En hulle het die manskappe opgestel, die hele leër wat noordelik van die stad was, met sy agterhoede aan die westekant van die stad, maar Josua het dieselfde nag die laagte ingetrek.
14. En toe die koning van Ai dit merk, het die manne van die stad hulle in die vroegte gou klaargemaak en uitgetrek om Israel in die geveg te ontmoet, hy en al sy manskappe, op ’n afgesproke plek voor die vlakte; maar hy het nie geweet dat daar vir hom agter die stad ’n hinderlaag lê nie.
15. En Josua en die hele Israel het hul laat verslaan voor hulle en gevlug in die rigting van die woestyn.
16. Al die manskappe in die stad is toe opgeroep om hulle agterna te jaag; en terwyl hulle Josua agtervolg, is hulle van die stad afgesny,
17. sodat niemand in Ai en Bet-el oorgebly het wat nie agter Israel aan uitgetrek het nie; en hulle het die stad oop laat staan en Israel agternagejaag.
18. En die Here het vir Josua gesê: Steek die spies wat in jou hand is, na Ai toe uit, want Ek wil dit in jou hand gee. Daarop steek Josua die spies wat in sy hand was, na die stad uit.
19. En die hinderlaag het gou van sy plek af opgestaan en gestorm net toe hy sy hand uitgesteek het, en hulle het in die stad ingekom en dit ingeneem en die stad gou aan die brand gesteek.
20. Toe die manne van Ai agter hulle omkyk, sien hulle hoe die rook van die stad na die hemel optrek; maar hulle het geen kans gehad om hierheen of daarheen te vlug nie, want die manskappe wat op die vlug was na die woestyn, het omgedraai teen die vervolgers.