Joël 1:3-9 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

3. Vertel daarvan aan julle kinders, en julle kinders aan hulle kinders, en húlle kinders aan die volgende geslag:

4. Wat die afknyper laat oorbly het, het die treksprinkaan verslind; en wat die treksprinkaan laat oorbly het, het die voetganger verslind; en wat die voetganger laat oorbly het, het die kaalvreter verslind.

5. Word wakker, julle dronkaards, en ween! En huil, al julle wyndrinkers! Oor die mos, omdat dit van julle mond weggeruk is.

6. Want ’n sterk en ontelbare nasie het opgetrek oor my land; sy tande is leeutande, en dit kan byt soos ’n leeuin.

7. Dit het my wingerdstok verwoes en my vyeboom versplinter; dit het ál sy bas afgeskil en weggegooi; die lote daarvan het wit geword.

8. Weeklaag soos ’n jonkvrou wat oor die bruidegom van haar jeug met ’n roukleed omgord is.

9. Spysoffer en drankoffer is ontruk aan die huis van die Here; die priesters, die dienaars van die Here, treur.

Joël 1