Job 14:4-13 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

4. Ag, kon maar ’n reine voortkom uit ’n onreine — nie een nie!

5. As dan sy dae vasgestel is, die getal van sy maande by U is, U vir hom grense gestel het waar hy nie oor kan gaan nie,

6. kyk dan weg van hom af, dat hy kan rus — totdat hy soos ’n dagloner hom tevrede voel met sy dag.

7. Want vir ’n boom is daar verwagting: as dit afgekap word, loop dit weer uit en sy loot ontbreek nie.

8. As sy wortel oud word in die aarde en sy stam sterf in die stof —

9. van die reuk van die water spruit dit weer uit, en dit maak ’n tak soos ’n jong plantjie.

10. Maar ’n man sterwe en is magteloos; ja, ’n mens blaas die asem uit en — waar is hy?

11. Die waters verdwyn uit die groot waterplas, en die rivier droog uit en lê droog —

12. so lê die mens daar sonder om weer op te staan; totdat die hemele nie meer is nie, word hulle nie wakker of uit hul slaap opgewek nie.

13. Ag, as U my maar in die doderyk wou wegsteek, my wou verberg totdat u toorn bedaar het, my ’n bepaalde tyd wou stel en dan aan my wou dink!

Job 14