2. Toe hulle aan die huis van Dawid berig stuur met die woorde: Die Arameërs het op Efraim toegesak! — het sy hart en die hart van sy volk gebewe soos die bome van die bos bewe voor die wind.
3. En die Here het vir Jesaja gesê: Gaan tog uit, Agas tegemoet, jy en jou seun Sjear Ja-sjub, aan die end van die watervoor van die Boonste Dam, by die grootpad van die Bleikveld,
4. en sê vir hom: Neem jou in ag en wees gerus; wees nie bevrees en laat jou hart nie week word oor hierdie twee rokende stukke brandhout nie — weens die gloeiende toorn van Resin en die Arameërs en van die seun van Remália;
5. omdat Aram onheil teen jou besluit het, Efraim en die seun van Remália, deur te sê:
6. Laat ons optrek teen Juda en dit skrik aanjaag en dit vir ons verower en die seun van Tábeal daaroor koning maak.
7. So sê die Here Here: Dit sal nie tot stand kom nie, en dit sal nie gebeur nie.
8. Want Damaskus is die hoof van Aram, en Resin die hoof van Damaskus, en binne vyf-en-sestig jaar sal Efraim verbreek word, sodat dit geen volk meer is nie;
9. en Samaría is die hoof van Efraim, en die seun van Remália die hoof van Samaría. As julle nie glo nie — voorwaar, dan sal julle nie bevestig word nie!
10. En die Here het verder met Agas gespreek en gesê:
11. Eis vir jou ’n teken van die Here jou God: sak diep af na die doderyk, of klim hoog op boontoe.
12. Maar Agas het geantwoord: Ek sal nie eis nie en die Here nie versoek nie.