Jesaja 66:10-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

10. Wees bly saam met Jerusalem en juig oor haar, almal wat haar liefhet! Wees vrolik saam met haar, baie vrolik, almal wat oor haar treurig gewees het!

11. sodat julle kan suig en versadig word aan die bors van haar vertroostinge; sodat julle kan uitdrink en julle verlustig in die oorvloed van haar heerlikheid.

12. Want so sê die Here: Kyk, die vrede lei Ek na haar toe soos ’n rivier en die rykdom van die nasies soos ’n oorlopende stroom; en julle sal suig, julle sal op die heup gedra word en op die knieë getroetel word.

13. Soos iemand wat deur sy moeder getroos word, so sal Ek julle troos; en julle sal in Jerusalem getroos word.

14. En julle sal dit sien, en julle hart sal vrolik wees, en julle gebeente sal groei soos die jong gras; dan sal die hand van die Here bekend word aan sy knegte, en Hy sal op sy vyande grimmig wees.

15. Want kyk, die Here sal kom in vuur, en sy waens soos ’n stormwind, om in hittigheid sy toorn te openbaar en in vuurvlamme sy dreiging.

Jesaja 66