15. Dan dien dit die mens as brandhout, en hy neem daarvan en maak hom warm; ook steek hy dit aan die brand en bak brood; ook maak hy daar ’n god van en buig hom daarvoor neer; hy maak daar ’n gesnede beeld van en kniel daarvoor neer.
16. Die helfte daarvan het hy in die vuur verbrand: by die een helfte eet hy vleis, hy maak braaivleis klaar en word versadig; ook maak hy hom warm en sê: Ha, ek het warm geword, ek het vuur gesien!
17. En van wat oor is, maak hy ’n god, sy gesnede beeld; hy kniel daarvoor neer en buig hom en aanbid dit en sê: Red my, want u is my god!
18. Hulle weet nie en verstaan nie, want hulle oë is toegesmeer, sodat hulle nie sien nie, hulle harte, sodat hulle nie verstaan nie;
19. en niemand neem dit ter harte nie, en daar is geen kennis of verstand om te sê nie: Die helfte daarvan het ek verbrand in die vuur, en ook het ek op die kole daarvan brood gebak; ek het vleis gebraai en geëet; en sal ek van die oorblyfsel daarvan ’n gruwel maak? Sal ek neerkniel voor ’n stuk hout?
20. Hy wat hom besig hou met as, ’n bedroë hart het hom verlei; sodat hy sy siel nie kan red, of kan sê nie: Is daar geen leuen in my regterhand nie?
21. Dink aan hierdie dinge, o Jakob en Israel! Want jy is my kneg; Ek het jou geformeer; jy is my kneg, Israel! Jy sal deur My nie vergeet word nie.
22. Ek delg jou oortredinge uit soos ’n newel en jou sondes soos ’n wolk; keer terug na My, want Ek het jou verlos.
23. Jubel, o hemele, want die Here het dit gedoen. Juig, dieptes van die aarde! Breek uit in gejubel, o berge, bosse en al die bome daarin! Want die Here het Jakob verlos, en Hy sal Homself verheerlik aan Israel.