Jesaja 26:9-19 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

9. Met my siel begeer ek U in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U; want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid.

10. Word aan die goddelose genade bewys, dan leer hy geen geregtigheid nie; wat onreg is, doen hy in ’n land van reg, en hy sien die hoogheid van die Here nie.

11. Here, is u hand opgehef, hulle sien dit nie; maar hulle sal dit sien en beskaamd staan; die ywer vir die volk, ook die vuur teen u teëstanders sal hulle verteer.

12. Here, U sal vir ons vrede beskik, want U het ook al ons werk vir ons volbring.

13. Here, onse God, ander here buiten U het oor ons geheers, maar deur U alleen prys ons ú Naam.

14. Dooie mense herlewe nie, skimme staan nie op nie; daarom het U hulle besoek en verdelg en alle gedagtenis aan hulle laat vergaan.

15. U het, o Here, die nasie vermeerder; U het die nasie vermeerder, Uself verheerlik; U het al die grense van die land uitgebrei.

16. Here, in benoudheid het hulle U gesoek; hulle het stille gebede uitgegiet toe u tugtiging hulle getref het.

17. Soos ’n bevrugte vrou wat naby die tyd kom dat sy moet baar, inmekaar krimp, skreeu in haar weë, so was ons vanweë u aangesig, o Here!

18. Ons was swanger, het weë gehad — dit was asof ons wind gebaar het; ons het die land geen redding aangebring nie, en daar is geen wêreldbewoners gebore nie.

19. U dode sal herlewe, my lyke sal opstaan. Waak op en jubel, julle wat in die stof woon! Want u dou is ’n dou van die lig, en die aarde sal aan skimme die lewenslig skenk.

Jesaja 26