13. Die woord wat die Here tot die profeet Jeremia gespreek het aangaande die koms van Nebukadrésar, die koning van Babel, om Egipteland te verower.
14. Verkondig dit in Egipte en laat dit hoor in Migdol; ja, laat dit hoor in Nof en in Tagpánhes. Sê: Staan reg, en maak jou klaar, want die swaard het verslind wat rondom jou is.
15. Waarom is jou ruitery neergewerp? Dit het nie bly staan nie, omdat die Here dit omgestoot het.
16. Hy het baie laat struikel, ja, die een val oor die ander, sodat hulle gesê het: Staan op en laat ons teruggaan na ons volk en na die land van ons geboorte weens die verdrukkende swaard.
17. Hulle het daar geroep: Farao, die koning van Egipte, is oorlogsrumoer; hy het die bepaalde tyd laat verbygaan.
18. So waar as Ek leef, spreek die Koning, wie se Naam is Here van die leërskare, daar sal sekerlik een kom soos Tabor onder die berge en soos Karmel by die see.
19. Maak vir jou toebereidsels om in ballingskap te gaan, o inwoner, dogter van Egipte; want Nof sal ’n woesteny word en dit sal verniel word, sonder inwoner wees.
20. Egipte is ’n pragtige vers; ’n steekvlieg kom, dit kom van die noorde af.
21. Ook is haar huurtroepe daar by haar soos kalwers uit die stal; maar hulle het ook omgedraai, almal saam gevlug, hulle het nie bly staan nie; want die dag van hulle ondergang het oor hulle gekom, die tyd van hulle besoeking.
22. Haar geluid is soos van ’n slang wat wegseil; want met ’n leërmag trek hulle en kom na haar met byle soos houtkappers.
23. Hulle kap haar bos om, spreek die Here; want hulle is onberekenbaar: want hulle is meer as sprinkane, sodat ’n mens hulle nie kan tel nie.
24. Die dogter van Egipte staan beskaamd; sy is oorgegee in die hand van die volk uit die Noorde.
25. Die Here van die leërskare, die God van Israel, sê: Kyk, Ek doen besoeking oor Amon van No en oor Farao en Egipte en sy gode en sy konings, ja, oor Farao en die wat op hom vertrou;
26. en Ek sal hulle oorgee in die hand van die wat hulle lewe soek, en in die hand van Nebukadrésar, die koning van Babel, en in die hand van sy dienaars. Maar daarna sal dit bewoon word soos in die dae van die voortyd, spreek die Here.
27. Maar jy, my kneg Jakob, wees nie bevrees nie; en wees nie verskrik nie, o Israel! Want kyk, Ek verlos jou uit ver plekke en jou kroos uit die land van hulle gevangenskap; en Jakob sal terugkom en stil en gerus wees sonder dat iemand hom verskrik.