15. So sê die Here: ’n Stem word gehoor in Rama, geklaag, bitter geween; Ragel ween oor haar kinders; sy weier om getroos te word oor haar kinders, omdat hulle daar nie is nie.
16. So sê die Here: Bedwing jou stem van geween en jou oë van trane; want daar is loon vir jou arbeid, spreek die Here; en hulle sal uit die land van die vyand terugkom.
17. Ja, daar is verwagting vir jou nakomelinge, spreek die Here; en die kinders sal terugkom na hulle grondgebied.
18. Sekerlik het Ek Efraim hoor weeklaag: U het my getugtig en ek het my laat tugtig soos ’n ongeleerde kalf. Bekeer my, dan sal ek my bekeer, want U is die Here my God.
19. Want nadat ek tot inkeer gekom het, het ek berou gehad; en nadat ek tot insig gekom het, het ek op die heup geslaan; ek het beskaamd gestaan, ja, ook in die skande gekom, omdat ek die smaad van my jeug dra.
20. Is Efraim vir My ’n dierbare seun of ’n troetelkind? Want so dikwels as Ek teen hom spreek, dink Ek nog altyd aan hom; daarom is my ingewande oor hom in beroering; Ek sal My sekerlik oor hom ontferm, spreek die Here.