1. DIE woord wat van die Here tot Jeremia gekom het toe Sedekía, die koning, Pashur, die seun van Malkía, en Sefánja, die seun van Maäséja, die priester, na hom gestuur het met die woorde:
2. Raadpleeg tog die Here vir ons, want Nebukadrésar, die koning van Babel, voer oorlog teen ons; miskien sal die Here met ons handel volgens al sy wonders, sodat hy van ons af wegtrek.
3. Toe het Jeremia vir hulle gesê: So moet julle vir Sedekía sê:
4. So spreek die Here, die God van Israel: Kyk, Ek laat die oorlogswapens terugdraai wat in julle hande is, waarmee julle oorlog voer buitekant die muur teen die koning van Babel en teen die Chaldeërs wat julle beleër; en Ek sal dit binne-in hierdie stad versamel.