5. Julle het op die aarde ’n weelderige en losbandige lewe gelei; julle het jul harte vet gevoer soos op ’n slagdag.
6. Veroordeel, vermoor het julle die regverdige; hy versit hom nie teen julle nie.
7. WEES dan geduldig, broeders, tot op die wederkoms van die Here. Kyk, die landbouer wag op die kostelike vrug van die aarde en het geduld daarmee totdat dit die vroeë en die laat reën ontvang het.
8. Julle moet ook geduldig wees; versterk julle harte, want die wederkoms van die Here is naby.
9. Moenie teen mekaar sug nie, broeders, sodat julle nie veroordeel word nie. Kyk, die Regter staan voor die deur.
10. Neem as voorbeeld van lyding, my broeders, en van geduld die profete wat in die Naam van die Here gespreek het.
11. Kyk, ons reken hulle geluksalig wat verdra. Julle het gehoor van die lydsaamheid van Job, en julle het die einddoel van die Here met hom gesien, dat die Here vol medelye en ontferming is.
12. Maar bo alles, my broeders, moenie sweer nie: nie by die hemel nie, ook nie by die aarde nie en ook geen ander eed nie; maar laat julle ja ja wees en julle nee nee, sodat julle nie onder ’n oordeel val nie.
13. Is daar iemand onder julle wat ly? Laat hom bid. Is iemand opgeruimd? Laat hom psalmsing.