Hooglied 1:4-12 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

4. Trek my agter u aan, laat ons gou maak! Die koning het my in sy binnekamers gebring. Ons wil juig en ons in u verheug, ons wil u liefde prys meer as wyn. Met reg het hulle u lief.

5. Ek is bruin gebrand maar lieflik, o dogters van Jerusalem, soos die tente van Kedar, soos die gordyne van Salomo.

6. Moenie na my kyk omdat ek so bruinerig is, omdat die son my verbrand het nie: die seuns van my moeder was toornig op my; hulle het my aangestel as oppasser van die wingerde; my eie wingerd het ek nie opgepas nie.

7. Vertel my tog, my sielsbeminde, waar laat u wei, waar laat u smiddags die vee lê en rus? Want waarom sou ek wees soos een wat haar met ’n sluier toedraai by die kuddes van u metgeselle?

8. As u dit self nie weet nie, mooiste onder die vroue, gaan dan uit op die spore van die skape en laat u bokkies wei by die hutte van die herders.

9. Met die perde voor ’n wa van Farao vergelyk ek u, my vriendin!

10. Lieflik is u wange tussen die kettinkies, u hals in die snoere.

11. Ons sal vir u goue kettinkies maak met silwerknoppe.

12. So lank as die koning aan sy tafel was, het my nardus sy geur gegee.

Hooglied 1