22. Maar toe die dienaars daar kom, het hulle hul nie in die gevangenis gekry nie; en hulle het omgedraai en berig gebring en gesê:
23. Die gevangenis het ons in alle sekerheid toegesluit gevind, en die wagte het buite gestaan voor die deure; maar toe ons oopmaak, kry ons niemand daarbinne nie.
24. En toe die hoëpriester en die hoofman van die tempel en die owerpriesters hierdie woorde hoor, was hulle daarmee verleë wat nou hiervan sou word.
25. En daar kom een en bring aan hulle berig en sê: Kyk, die manne wat julle in die gevangenis gesit het, staan in die tempel en leer die volk.
26. Daarop gaan die hoofman met die dienaars en bring hulle, maar nie met geweld nie, uit vrees vir die volk dat hulle gestenig sou word.
27. Hulle het hul dan gebring en voor die Raad gestel; en die hoëpriester het hulle gevra en gesê:
28. Het ons julle nie uitdruklik verbied om in dié Naam te leer nie? En kyk, julle het Jerusalem met julle leer vervul; en julle wil die bloed van hierdie Man op ons bring.