5. Toe die Here sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was,
6. het dit die Here berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in sy hart.
7. En die Here sê: Ek sal die mens wat Ek geskape het, van die aarde verdelg, die mens sowel as die vee en die kruipende diere en die voëls van die hemel; want dit berou My dat Ek hulle gemaak het.
8. Maar Noag het genade gevind in die oë van die Here.
9. Dit is die geskiedenis van Noag. Noag was ’n regverdige, opregte man onder sy tydgenote. Noag het met God gewandel.
10. En Noag het drie seuns gehad: Sem, Gam en Jafet.
11. Maar die aarde was verdorwe voor die aangesig van God, en die aarde was vol geweld.
12. Toe sien God die aarde aan, en — dit was verdorwe, want alle vlees het sy wandel op die aarde verderwe.
13. En God sê vir Noag: Die einde van alle vlees het volgens my besluit gekom; want die aarde is deur hulle vervul met geweld. En kyk, Ek gaan hulle saam met die aarde verdelg.
14. Maak vir jou ’n ark van goferhout. Met afdelings moet jy die ark maak en dit binne en buite met pik bestryk.