Génesis 50:6-20 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

6. En Farao sê: Trek op en begrawe jou vader soos hy jou laat sweer het.

7. Toe het Josef opgetrek om sy vader te begrawe, en al die dienaars van Farao, die oudstes van sy huis, het saam met hom opgetrek, en al die oudstes van Egipteland;

8. ook die hele huis van Josef en sy broers en die huis van sy vader. Net hulle kinders en hulle kleinvee en hulle beeste het hulle in die land Gosen laat agterbly.

9. En saam met hom het opgetrek strydwaens sowel as ruiters, sodat dit ’n baie groot trek was.

10. En toe hulle by die Steekdoring-dorsvloer kom, wat oos van die Jordaan lê, het hulle daar ’n groot en baie swaar rouklag gehou. En hy het oor sy vader rou laat bedrywe sewe dae lank.

11. Toe die inwoners van die land, die Kanaäniete, die roubedryf by die Steekdoring-dorsvloer sien, sê hulle: Dit is ’n swaar rou vir die Egiptenaars. Daarom het hulle dit Abel-Misráim genoem, wat oos van die Jordaan lê.

12. En sy seuns het met hom gedoen net soos hy hulle beveel het:

13. sy seuns het hom weggebring na die land Kanaän en hom begrawe in die spelonk van die stuk grond van Magpéla, die stuk grond wat Abraham as eiendomsgraf gekoop het van Efron, die Hetiet, oos van Mamre.

14. Daarna het Josef na Egipte teruggegaan, hy en sy broers en almal wat saam met hom opgetrek het om sy vader te begrawe, nadat hy sy vader begrawe het.

15. Toe die broers van Josef sien dat hulle vader dood was, het hulle gesê: Sê nou Josef gaan ons as vyande behandel en hy gaan ons werklik vergelde al die kwaad wat ons hom aangedoen het!

16. Daarom het hulle hierdie boodskap na Josef gestuur: U vader het voor sy dood bevel gegee met hierdie woorde:

17. So moet julle vir Josef sê: Ag, vergewe tog die oortreding van jou broers en hulle sonde, want hulle het jou kwaad aangedoen. Maar nou, vergewe tog die oortreding van ons wat die God van u vader dien. En Josef het geween toe hulle met hom spreek.

18. En sy broers het ook self gegaan en voor hom neergeval en gesê: Kyk, ons is u slawe.

19. Maar Josef het hulle geantwoord: Moenie bevrees wees nie; want is ek in die plek van God?

20. Want júlle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om ’n groot volk in die lewe te hou.

Génesis 50