Génesis 46:20-34 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

20. En vir Josef is in Egipteland gebore Manasse en Efraim wat Ásenat, die dogter van Potiféra, die priester van On, vir hom gebaar het.

21. En die seuns van Benjamin: Bela en Beger en Asbel, Gera en Naäman, Egi en Ros, Muppim en Huppim en Ard.

22. Dit is die seuns van Ragel wat vir Jakob gebore is, almal saam veertien siele.

23. En die seuns van Dan: Husim.

24. En die seuns van Náftali: Jágseël en Guni en Jeser en Sillem.

25. Dit is die seuns van Bilha wat Laban aan sy dogter Ragel gegee het; en sy het hulle vir Jakob gebaar, almal saam sewe siele.

26. Al die siele wat aan Jakob behoort het en, uit sy heup afkomstig, na Egipte gegaan het, behalwe die vroue van die seuns van Jakob, was almal saam ses-en-sestig siele.

27. En die seuns van Josef wat vir hom in Egipte gebore is, was twee siele. Al die siele van die huis van Jakob wat in Egipte gekom het, was sewentig.

28. En hy het Juda voor hom uit gestuur na Josef, dat dié voor hom uit die pad moes wys na Gosen; en hulle het in die land Gosen aangekom.

29. Toe span Josef sy wa in, en hy trek op, sy vader Israel tegemoet na Gosen. En toe hy homself aan hom vertoon, het hy om sy hals geval en lank aan sy hals geween.

30. En Israel sê vir Josef: Nou kan ek sterwe nadat ek jou aangesig gesien het, dat jy nog leef!

31. Daarna het Josef met sy broers en die huis van sy vader gespreek: Ek sal optrek en aan Farao vertel en aan hom sê: My broers en die huis van my vader wat in die land Kanaän was, het na my gekom.

32. En die manne is herders van kleinvee — want hulle was veeboere — en hulle het hul kleinvee en hul beeste en alles wat hulle besit, saamgebring.

33. En as Farao julle laat roep en sê: Wat is julle nering?

34. dan moet julle antwoord: U dienaars was veeboere van ons jeug af tot nou toe, ons sowel as ons vaders — sodat julle in die land Gosen kan woon. Want elke herder van kleinvee is vir die Egiptenaars ’n gruwel.

Génesis 46