Génesis 37:12-17 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

12. En sy broers het die kleinvee van hulle vader by Sigem gaan oppas.

13. Toe sê Israel vir Josef: Pas jou broers nie die vee op by Sigem nie? Kom, laat ek jou na hulle toe stuur. En hy antwoord hom: Hier is ek!

14. Toe sê hy vir hom: Gaan tog verneem na die welstand van jou broers en die welstand van die vee, en bring vir my berig terug. So het hy hom dan uit die dal van Hebron weggestuur, en hy het by Sigem aangekom.

15. Daarop kry ’n man hom terwyl hy in die veld ronddwaal, en die man vra hom: Wat soek jy?

16. En hy antwoord: Ek soek my broers. Vertel my tog waar hulle die vee oppas.

17. Toe sê die man: Hulle het hiervandaan weggetrek, want ek het hulle hoor sê: Laat ons na Dotan gaan. En Josef het agter sy broers aan gegaan en hulle in Dotan gevind.

Génesis 37