7. Toe spreek Isak met sy vader Abraham en sê: My vader! En hy antwoord: Hier is ek, my seun! En hy sê: Hier is die vuur en die hout, maar waar is die lam vir ’n brandoffer?
8. En Abraham antwoord: God sal vir Homself die lam vir ’n brandoffer voorsien, my seun. So het hulle twee dan saam geloop.
9. Toe hulle kom op die plek wat God hom aangewys het, het Abraham daar die altaar gebou en die hout reggelê; daarna het hy sy seun Isak gebind en hom op die altaar bo-op die hout gesit.
10. Toe steek Abraham sy hand uit en neem die mes om sy seun te slag.