Exodus 23:20-26 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

20. Kyk, Ek stuur ’n Engel voor jou uit om jou op die pad te bewaar en om jou na die plek te bring wat Ek gereedgemaak het.

21. Neem jou in ag vir Hom en luister na sy stem; wees nie wederstrewig teen Hom nie; want Hy sal julle oortreding nie vergewe nie, want my Naam is in Hom.

22. Maar as jy terdeë na sy stem luister en alles doen wat Ek sal sê, sal Ek die vyand van jou vyande en die teëstander van jou teëstanders wees.

23. Want my Engel sal voor jou uit gaan en jou bring na die Amoriete en Hetiete en Feresiete en Kanaäniete, Hewiete en Jebusiete; en Ek sal hulle vernietig.

24. Jy mag jou voor hulle gode nie neerbuig en hulle nie dien nie, ook mag jy nie doen na hulle werke nie; maar jy moet hulle heeltemal afbreek en hulle klippilare kort en klein slaan.

25. En julle moet die Here julle God dien; dan sal Hy jou brood en jou water seën, en Ek sal siektes uit jou midde verwyder.

26. Daar sal geen misdragtige of onvrugbare in jou land wees nie. Ek sal die getal van jou dae vol maak.

Exodus 23